Kernoortuigings
Hier volg die kernoortuigings van Oosterlig gebaseer op die waarhede wat ons in die Bybel vind. Al ons boodskappe, kursusse en bedieninge is gegrond in hierdie Bybelse beginsels.
God
Daar is slegs een God wat vir ewig bestaan uit drie persone: God die Vader, Jesus Christus die Seun en die Heilige Gees. Hy is die Skepper van alles wat bestaan, dit wat jy kan sien en dit wat jy nie kan sien nie, en daarom is Hy waardig om geprys te word. Die Here is perfek in liefde, krag, heiligheid, goedheid, wysheid, geregtigheid en genade. Hy is onveranderlik en daarom dieselfde gister, vandag en more.
Inkarnasie
God het homself aan die mensdom deur Sy Seun Jesus Christus openbaar. Hy is die sigbare persoon van die onsigbare God, die persoon waarna die Heilige Geskrifte en die skepping verwys.
Mens
Die mens, man en vrou, is geskep in die beeld van God vir Sy glorie.
Sondeval
Toe Adam en Eva gekies het om nie God te gehoorsaam nie, het 3 verhoudings gebreek. Die verhouding tussen God en die mens, die verhouding tussen mens en mens en die verhouding tussen mens en die natuur. Ons leef tans steeds binne daardie gebroke verhoudings.
Versoening
Jesus Christus het gekom om hierdie drie verhoudings met homself te versoen. Hy het 'n lewe geleef sonder sonde en vrywillig aan die kruis gesterf vir ons elkeen se gebrokenheid. Hy het na drie dae opgestaan uit die dood en deur sy genade kan almal wat Hom volg deel hê aan die ewige lewe. Daarom kan redding slegs deur Jesus Christus plaasvind.
Die Kerk
Die kerk is die sigbare liggaam van Christus, gestuur in die wêreld om die goeie nuus van Jesus te versprei en God te verheerlik.
Skepping
God is die een wat geskep het en steeds skep. Die mens is aangestel oor die skepping om toe te sien dat God se skepping nie uitgebyt word nie.